Find the right local SA attorney now!

BOEDELS

Contributed by our listed attorneys

Die reg affekteer alles in ons lewens   ….   en in die dood.

Sodra ‘n persoon te sterwe kom, moet iets gebeur met die eiendom van die oorledene (huis, meubels, gelde, beleggings, skuld en so meer).  Om te verseker dat die belange van alle oorlede persone beskerm word, is die Meester van die Hoe Hof aangestel (hierna genoem die “Meester”) om die oorsiener te wees van alle oorlede persone se boedels.

Daar is dus sekere stappe om te volg na die afsterwe van enige persoon en die eerste stap is dat die dood aangemeld moet word by die Meester – maak nie saak wie die persoon was nie en maak nie saak of die persoon ryk of arm was nie.  Daar is voorskrifte wat gevolg moet word in hierdie verband.

WAT GEBEUR MET MY BATES WANNEER EK TOT STERWE KOM?

Die beste manier om seker te maak dat daar met u bates gehandel word op die manier wat u wil he dit mee gehandel moet word, is om’ n testament te maak.  Indien u nie ‘n testament het nie, sal u bates verdeel word in terme van die Wet op Intestate Erfreg. Hierdie Wet bevat die voorskrifte oor hoe bates verdeel moet word aan welke erfgename en kan dit veroorsaak dat persone u bates erf wat u nie wou he moet van u erf nie.

In u testament het u die vryheid om te bepaal hoe u bates moet verdeel. U sal ook ‘n Eksekuteur aanstel. Die Eksekuteur is die persoon wat sal handel met u bates en die administratiewe take verrig wat verrig moet word na u dood (om die boedel aan te meld by die Meester; ‘n inventaris op te stel van u bates;  om verslag te doen aan die Meester; advertensies te plaas en so voorts).

Soos vroeer gemeld, moet alle persone se dood aangemeld word by die Meester en dit moet aangemeld word 14 dae na u dood.  Sodra die dood aangemeld is en die oorspronklike testament (of die gebrek daaraan) ook aan die Meester gestuur word.  Die Meester sal dan die Eksekuteur formeel aanstel deur ‘n Eksekuteursbrief uit te reik en sal u boedel ‘n nommer toegeken word.

WAT GEBEUR MET MY BANKREKENINGS?

Dit is baie belangrik dat u voorsiening maak vir u geliefdes sodat hulle kontant beskikbaar sal he by u afsterwe, want u bankrekenings word met u dood gevries deur die banke.  Die bank kan gelde ontvang in die rekening, maar gelde kan nie uitbetaal word nie.  Sodra die Eksekuteur aangestel word, dan moet hy/sy ‘n nuwe bankrekening open in die naam van “Boedel Wyle Mnr X”. dit is omdat, sodra ons te sterwe kom, laat ons ons bates na wat ons “boedel” vorm.  ‘n Nuwe bankrekening word deur die Eksekuteur oopgemaak en alle gelde wat in enige ander bankrekening gehou was deur die oorledene, word oorgedra na die nuwe bankrekening.  Enige items wat verkoop word se gelde word ook gestort in die nuwe bankrekening en enige aandele wat verkoop word se opbrengs gaan ook na die nuwe bankrekening.  Die gelde sal gehou word in hierdie bankrekening totdat die Meester goedkeuring gee dat die gelde uitbetaal kan word.  Dit sal gewoonlik wees nadat die Eksekuteur die tweede en Finale Inkomste en Distribusierekening ingedien het en dit goedgekeur is deur die Meester.

ONDERHOUD AAN GELIEFDES

Vir die onmiddellike en totdat die Eksekuteur aangestel word (gewoonlik 3 maande na datum van rapportering van die boedel aan die Meester), kan daar kontantvloeiprobleme bestaan aangesien die rekenings gevries word en die nuwe boedelrekening nog nie deur die Eksekuteur oopgemaak is nie.  U behoort dus voorsiening te maak dat daar altyd en  onmiddellik kontant aan u geliefdes beskikbaar is.  (U kan ‘n Trust registreer – sien ons artikel oor trusts)

U kan ook ‘n polis uitneem vir hierdie doeleindes.

Daar is omstandighede waar die Eksekuteur kan gelde uitbetaal vir onderhoud voordat die Meester die finale Inkomste en Distribusierekening goedgekeur het.

WAT IS DIE LIKWIDASIE EN DISTRIBUSIEREKENING

Dit is ‘n rekening wat opgestel word deur die Eksekuteur.  Hierdie rekening wys presies wat die Eksekuteur gedoen het met die bates van die oorlede persoon en wat daarmee gedoen gaan word (uitbetaling/oordrag aan erfgename of in terme van die testament of in terme van die intestate erfreg). Daar is 2 van hierdie rekenings wat ingedien moet word by die Meester en daar kan nie met die bates gehandel word nie alvorens die Meester dit nie goedgekeur het nie.  (behalwe onderhoud soos uiteengesit in die boonste paragraaf).  Dit is ‘n meganisme om seker te maak dat daar behoorlik gehandel word met die bates van die oorledene.

Die Eerste Likwidasie en Distribusierekneing moet ingedien word deur die Eksekuteur binne 6 maande nadat die Eksekuteur aangestel is deur die Meester.  As die Meester die rekening aanvaar, sal hy/sy die Eksekuteur toestemming gee om die rekening te adverteer in ‘n koerant wat sirkuleer in die area waar die oorledene normaalweg gebly het en die advertensie is standaard. Die advertensie moet se dat die rekening beskikbaar is by die kantore van die Meester vir inspeksie en dit moet beskikbaar wees vir nie minder nie as 21 dae.  Enige persoon kan dan gaan na die Meester en gaan kyk na die rekening. Gewoonlik sal dit die skuldeisers van die oorledene wees.  Indien iemand ‘n beswaar teen die rekening het, kan so ‘n persoon sy/haar beswaar indien by die Meester. ‘n Voorbeeld hier is indien jy byvoorbeeld ‘n kind van die oorledene is en die testament se dat jy Rx moet erf, maar jy merk in die Likwidasie en Distrubusierekening dat die Eksekuteur wys nie in die rekening dat Rx bedrag aan jou betaal sal word nie.  Jy kan dan ‘n beswaar indien by die Meester en die Meester sal die saak verder ondersoek.  Dit is om te verseker dat die Eksekuteur handel met die bates van die oorlede in ‘n voorgeskrewe manier en in terme van die testament.

WAT VAN MY KREDITEURE?

Sodra die Eksekuteur aangewys is deur die Meester, moet die Eksekuteur ‘n advertensie in die Staatskoerant plaas en ook in of twee plaaslike koerante wat gesirkuleer word waar die oorledene gewoon het.  In hierdie kennisgewing  word daar vereis dat alle persone aan wie die oorledene geld geskuld het, aangese word om ‘n eis te bewys teen die boedel binne 30 dae.  Hierdie kennisgewings word geplaas net om seker te maak dat almal wat ‘n belang het in u boedel kennis neem dat u oorlede is en dat hulle die nodige aksie moet neem.

BOEDELBELASTING

Boedelbelasting word betaal teen ‘n koers van 20% op die boedel se waarde.  Die boedel se waarde word bepaal deur al die bates van die oorledene bymekaar te tel en dan af te trek daarvan  alle bedrae wat die wet toelaat afgetrek mag word en van hierdie subtotaal word die bedrag van R3,5miljoen afgetrek.  Indien daar nog ‘n balans is, sal die persoon 20% boedelbelasting betaal op die bedrag wat oorbly.

Kom ons gebruik ‘n voorbeeld:

Mnr X se batewaarde van al sy bates is R2 miljoen.

Trek af R3,5 miljoen.

Dit is meer as R2miljoen – dus gaan Mnr X nie boedelbelasting betaal nie.

 

Tweede voorbeeld:

Mnr X se batewaarde is R5 miljoen.

Trek af R3,5miljoen.

Mnr X gaan 20% boedelbelasting betaal op R1,5 miljoen.

20% van R1,5 miljoen is R300 000 – dit is die bedrag boedelbelasting wat Mnr X se boedel gaan betaal.

Daar is maniere om boedelbelasting te verminder. Hierdie onderwerp val nie binne die bestek van hierdie artikel nie. U kan wel meer oor trusts lees hier)

KAPITAALWINSBELASTING

Onder sekere omstandighede kan u boedel aanspreeklik wees vir kapitaalwinsbelasting.  Ons gaan dit nie hier bespreek nie aangesien dit ‘n artikel op sy eis is.

WAT GEBEUR MET MY HUIS?

Indien u ‘n testament gelaat het, sal die testament bepaal wat met u bates gebeur.  Indien u nie ‘n testament gelaat het nie, sal u erfgename van u erf in terme van die intestate erfreg. 

In u testament kan u u huis laat aan u eggenoot, of u kan bepaal dat dit verkoop moet word.  Hopelik is daar nie ‘n verband nie, of indien daar ‘n verband is het u ‘n polis in plek wat die verband sal aflos by u afsterwe, sodat u erfgename nie gelaat word met ‘n verband wat nie betaal kan word  en sodoende verloor hulle die eiendom nie. 

As u ‘n testament gelaat het, sal die eiendom oorgedra word aan die persoon(ne) of trust aan wie u die eiendom nalaat.  Daar sal nie hereregte betaal word in so ‘n geval nie. Indien die eiendom egter deur die Eksekuteur verkoop word aan ‘n derde party, dan sal daar hereregte betaalbaar wees as die eiendom meer as R600 000 werd is.

WAT IS DIE PROSEDURES

As die Eksekuteur wat aangewys is ‘n leek is, is die kanse uitstekend dat hy/sy ‘n professionele persoon in elk geval gaan aanstel om te help met die bereddering van die boedel.  Dit is dus ons advies om van meet af aan ‘n professionele persoon aan te stel om te vermy dat ‘n familielid beswaar word met problem.