Find the right local SA attorney now!

TRUSTS - 'N ALGEMENE BESPREKING

Article by listed Attorney: Nanika Prinsloo

WAT IS SO SPESIAAL AAN ‘N TRUST?

Hierdie artikel sal u ‘n algemene bespreking en baie wye agtergrond gee oor Trusts.  ‘n Woord van versigtigheid aan die leser:  A Trust is ‘n uitstekende meganisme om te gebruik as die dokumente korrek opgestel is en indien u weet hoe om ‘n Trust te gebruik en te bestuur.  Ons kry gereeld persone met Trusts waar die dokumentasie swak opgestel is, of die Trust is geregistreer, maar daar is nooit aan hulle verduidelik wat om met die Trust te doen nie.  Daar is baie mense wat Trusts registreer, so maak dus seker dat u ‘n professionele persoon kies wat genoeg regskennis het om Trustdokumentasie behoorlik op te stel.

VOORDELE VAN ‘N TRUST

Daar is heelwat voordele aan ‘n Trust, en lys ons dit as volg:

  1. Nie net vir ryk mense nie – Enige persoon bo die ouderdom van 18 jaar kan ‘n Trust regsitreer en enige tipe bate (geld/meubels/voertuie/aandele) kan oorgedra word aan ‘n Trust.
  2. Beskerm jou bates – ‘n Trust is ‘n uitstekende meganisme om te gebruik om jou bates te beskerm teen beslaglegging deur skuldeisers.  Die rede hiervoor is dat sodra die bates aan die Trust oorgedra is, behoort die bates aan die Trust en kan u krediteure gevolglik nie daarop beslag le nie. 
  3. Geen onderbreking – indien u sou sterf of insolvent raak, kom alles tot ‘n stilstand. U kan u bates verloor as daar te veel skuld is of indien u sou sterf dan kan dit veroorsaak dat u geliefdes sonder toegang tot kontant sit.  Indien u bates in ‘n Trust is, sal u dood of insolvensie geen impak op die bates van die Trust he nie.
  4. Bespaar op boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting – ‘n Trust is ‘n goeie meganisme om u bates so te struktureer dat u min of geen belasting betaal nie.  Byvoorbeeld, u kan u bates skuif tydens u leeftyd na die Trust sodat die groei van die bate in die Trust plaasvind en nie in u hande nie.  Gevolglik vermy u om kapitaalwinsbelasting en/of boedelbelasting te betaal by u afsterwe.
  5. Doen beter besigheid  - dit is beter om die lidmaatskap van ‘n Beslote Korporasie of die aandeelhouding in’ n Maatskappy te laat hou in ‘n Trust.  Op hierdie manier word die besigheidsbates in die Trust gehou en kan krediteure van die besigheid dus nie daarop beslag le nie.  Op hierdie wyse kan u beter besigheid doen want u gaan nie bekommerd wees oor u bates nie.  Watookal met u persoonlik gebeur (dood/siekte) beteken dat die besigheid kan voortbestaan want wat met u gebeur affekteer nie die Trust nie.
  6. Nog ‘n woord van versigtigheid – die geheim van ‘n Trust is om nooit ooit enige skuld in die Trust aan te gaan of die Trust te laat borg teken nie.  As die Trust skuld aangegaan het en dit nie kan betaal nie, is dit in dieselfde posisie as ‘n individu.  Skuldeisers sal die skuld oproep en kan beslag le op die bates van die Trust. Dus, slegs bates wat ten volle vereffen is behoort oorgedra te word aan die Trust en daarna moet geen skuld in die Trust aangegaan word nie.  (Hierdie advies is nie van toepassing waar die Trust geregistreer is om eiendom te hou en ‘n verband aangegaan moet word nie – maar dan moet daar nie ander bates in die Trust wees nie, ingeval die Trust nie die verband kan betaal nie).

HOE WORD ‘N TRUST GESKEP?

‘n Trust word geskep deur ‘n Skenker, wie geld aan die Trust skenk deur die Trust te begin.  Gewoonlik is dit R100.  Die Skenker stel Trustees aan en die Skenker bepaal hoe die Trust gaan werk.  Hierdie voorskrifte word uiteengesit in ‘n Trustakte wat uniek opgestel word vir elke Trust wat geregistreer word.  Die Trustakte word geregistreer by die Meester van die Hooggeregshof.  Sodra dit geregistreer is, kry die Trust ‘n registrasienommer en ‘n “Brief van Trusteeskap”.   Sodra hierdie Brief ontvang word, moet die Trustees ‘n bankrekening oopmaak in die naam van die Trust en die R100 van die Skenker daarin deponeer.  Dan is die Trust behoorlik aan die gang.  Bates wat aan die Trust oorgedra word word die eiendom van die Trust.  Die Trust moet ook vir inkomstebelasting geregistreer word.

TIPE TRUSTS

Daar is verskillende tipes Trusts, maar ons sal slegs kortliks twee noem:  ‘n testamentere Trust (mortis causa).  Dit is ‘n Trust wat geskep word in ‘n persoon wat ‘n testament maak en daar bates gelaat word aan minderjarige kinders of aan persone wat nie vir hulself kan sorg nie of vir liefdadigheid.  ‘n Testamentere Trust word eers geregistreer na die dood van die persoon wat die testament gemaak het.

Dan is daar ‘n inter vivos Trust en dit is ‘n Trust wat geregistreer word terwyl die persoon nog leef.  Die doel van hierdie Trust is om bates in ‘n Trust te sit vir enige rede:  of om bates te beskerm teen skuldeisers; of om te verseker dat daar voortsetting is by die dood van die Skenker, of watter rede ookal.

HOE WERK ‘N TRUST?

In die algemeen, bestaan ‘n Trust uit Trustees (die persone wat die Trust bestuur) en  Begunstigdes.  Daar is twee tipes begunstigdes, naamlik Inkomste Begunstigdes.  Die Inkomste Begunstigdes is die persoon(one) wat ‘n inkomste uit die Trust ontvang, as daar ‘n inkomste uit die Trust te verkry is.  Dan is daar ook Kapitaal Begunstigdes en hierdie tipe begunstigdes verkry al die bates van die Trust wanneer die Trust tot ‘n einde kom.  Byvoorbeeld – Mnr X stig ‘n Trust.  Hy is die Inkomste Begunstigde van die Trust en sal R1000 per maand aan inkomste uit die Trust betaal word.  Die Kapitaal Begunstigdes van die Trust is sy 2 kinders.  Die Trust sal tot ‘n einde kom wanneer die laaste kind die ouderdom van 20 jaar bereik.  Na die 20ste verjaardag van die jongste kind, sal die Trust gederegistreer word en die bates wat deur die Trust gehou word, sal oorgedra word aan die twee kinders as Kapitaal Begunstigdes.

Die Trust kan so gestruktureer word dat u inkomste deur die Trust gaan en dan kan u dit weer trek uit die Trust onder u belastingdrempel. 

Die Trust kom tot ‘n einde wanneer die Skenker so bepaal.  As dit ‘n Testamentere Trust is, word die Trust gewoonlik gestig om bates te hou vir minderjarige kinders van die oorledene en wel totdat die kinders meerderjarigheid (of ‘n ouderdom bepaal deur die Skenker) bereik.  In so ‘n geval word die Trust gederegistreer en bates na die kinders toe oorgedra.

Wanneer dit ‘n inter vivos Trust is (Trust wat in lewe geregistreer is), dan sal die Skenker bepaal wanneer die Trust tot ‘n einde kom. Dit is nie nodig dat ‘n Trust tot ‘n einde kom nie en kan dit in der ewigheid voortbestaan.  ‘n Goeie voorbeeld van ‘n Trust wat nooit tot ‘n einde kom nie is byvoorbeeld die Kirstenbos Tuine in Kaapstad wat gehou word deur ‘n Trust. 

Al hierdie voorskrifte word bepaal deur die Skenker in die Trustakte wat opgestel word.

‘n Trust kan ook gebruik word om die aandeelhouding in ‘n Maatskappy te hou of, of lidmaatskap in ‘n Beslote Korporasie.  In so ‘n geval kan die besigheid se bates dan oorgedra word aan die Trust en kan die besigheid maar ondergaan, die bates sal veilig wees.  Ook waar die lid van die Beslote Korporasie sou sterf, moet die Beslote Korporasie tot ‘n einde kom, maar waar die lidmaatskap gehou word deur ‘n Trust, sal die besigheid en die Trust bly voortbestaan.

 

Hierdie artikel is geskryf deur Nanika Prinsloo van Prinsloo en Genote Prokureurs en Aktebesorgers.

Webblad:  www.empowerlaw.co.za