Find the right local SA attorney now!

VEREISTES VIR ‘N TESTAMENT OM GELDIG TE WEES

Views from our listed attorneys


Daar is ‘n paar vereistes vir ‘n testament om geldig te wees.

Jou testament is die laaste dokument wat jy kan nalaat wat jou wense uitdruk aangaande wat met jou bates moet gebeur na jou dood.  Dit is baie belangrik dat jy ‘n testament het, maar meer belangrik dat die testament voldoen aan die vereistes vir ‘n testament om geldig te wees.  Dit help nie jy het ‘n testament, maar dit is ongeldig nie. Indien jy sonder ‘n testament sterf, sterf jy intestaat en dan vererf jou bates in terme van die Wet of Intestate Erfreg.  Dit kan tot gevolg he dat persone van jou erf wat jy nie wil he moet van jou erf nie.  Lees my artikel oor hoe vererwing plaasvind waar ‘n persoon sonder ‘n testament sterf..

Daar is nooit ‘n beter tyd om ‘n testament op te stel as nou nie, want enigiets kan enige tyd gebeur.

MAAK SEKER JOU TESTAMENT VOLDOEN AAN DIE VEREISTES VIR ‘N TESTAMENT OM GELDIG TE WEES

Ons kry gereeld mense wat eerder die kostes wou spaar om te betaal om ‘n testament op ‘n professionele wyse op te stel en dan “knip-en-plak” hul van die internet af.  Dit is gevaarlik om te doen, want om ‘n testament op te stel wat voldoen aan die vereistes van ‘n testament om geldig te wees, verg kundigheid en regskennis, asook kennis van boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en inkomstebelasting.  “Knip-en-plak” testamente kan jou duur te staan kom., so doen liewer die moeite en kontak my dat ons vir jou boedelbeplanning doen en ‘n goeie testament wat in jou beste belang is opstel.

VEREISTES VIR ‘N TESTAMENT OM GELDIG TE WEES

Daar is verskeie  vir ‘n testament om geldig te wees.  Ek bespreek sommige van hulle breedweg in hierdie artikel. Dit is nie ‘n uitsluitlike lys nie, is nie regsadvies nie en elke geval moet op sy eie meriete beoordeel word.  Maar vir agtergrond lys ek van die vereistes hieronder:

Eerstens moet ‘n testament op skrif wees.   ‘n Mondelingse testament word nie deur ons reg erken as geldig nie..  

Die dokument moet onderteken wees deur die Testateur of die Testratrise  (die persoon wat die testament verly).   Dit help nie die testament voldoen aan die eerste vereiste (dat dit op skrif moet wees) maar dit is nie onderteken nie.  Elke bladsy van die testament moet deur die Testateur / Testatrise onderteken wees,  asook twee onafhanklike getuies.  Hierdie twee getuies moet gelyktydig in die teenwoordigheid van die Testateur / Testatrise wees toe die testament onderteken is.

Die Testateur/Testrase moet self die testament onderteken. Die persoon wie se testament dit is kan nie aan iemand anders ‘n volmag gee om die testament namens jou te teken nie. 

Getuies wat saam met die Testateur/Testatrise geteken het, mag nie van die Testateur/Testatrise erf nie. 

EKSEKUTEUR

Daar moet ‘n Eksekuteur aangewys word in die testament.  Dit sal nie die testament ongeldig maak as daar nie ‘n eksekuteur aangestel word nie, maar dit sal ongehoord wees en ‘n baie swak opgestelde testament deur iemand wat nie weet wat hy/sy doen as daar nie ‘n eksekuteur aangewys is nie. 

Die Eksekuteur is die persoon wat aangestel word om die oorledene se boedel af te handel.  Met afhandeling word bedoel dat die Eksekuteur al die werk moet doen wat nodig is om met die bates te handel, te sorg dat die erfgename hulle deel kry, te sorg dat die skulde betaal word en dan op die einde ‘n Likwidasie en Distribusierekening op te stel waarin verslag gedoen word hoe met die bates gehandel is. 

Dit is beter om ‘n professionele persoon aan te stel as jou eksekuteur.  Dit is goed en wel om ‘n familielid of jou eggenoot aan te stel as eksekuteur, maar so ‘n persoon weet nie regtig wat om te doen nie (as dit ‘n leek is wat boedels betref) en buitendien gaan die Meester so ‘n persoon verplig om ‘n prokureur aan te stel as  mede-eksekuteur.  

Lees my artikel oor afhandeling van ‘n oorledene se boedel

‘N TRUST EN MINDERJARIGE KINDERS/ANDER PERSONE WAT IN TRUST ERF

Indien ‘n persoon wat ‘n testament maak minderjarige kinders het, is dit belangrik dat die testament voorsiening maak vir die versorging van die minderjarige kinders deur die skep van ‘n trust.  ‘n Trust geskep in ‘n testament word eers na jou dood geregistreer. Enigiets wat jou minderjarige kinders dan erf, word in die trust geplaas en bestuur tot voordeel van jou kinders deur die trustees wat jy in jou testament aanstel.  Die trust kan dan die kinders onderhou totdat hulle die ouderdom bereik wat jy bepaal het hulle die bates kan erf.

Indien jy minderjarige kinders het en jy skep nie ‘n trust vir jou minderjarige kinders nie, sal enige geld wat hulle van jou erf in die Voogdyfonds, wat deur die staat beheer en bestuur word, geplaas word. Enige bates wat jy besit sal verkoop moet word want die staat kan nie jou bates bestuur nie en die opbrengs van daardie bates sal ook in die Voogdyfonds geplaas word. Die groeikoers waarteen die gelde bele word deur die Voogdyfonds is baie laag, so dit is beter om ‘n testamentere trust te skep, dan weet jy jou kinders word behoorlik versorg.

Jy kan natuurlik ook ‘n trust skep terwyl jy lewe en al jou bates in die trust plaas. Wanneer jy dan sterf, sal daar niks uit jou boedel uit vererf nie, want die bates sal reeds in die trust wees.

Jy hoef nie net ‘n trust in jou testament te skep vir minderjarige kinders nie – jy kan jou bates in trust laat plaas vir enige rede aan enige persoon of instansie.  As  jou kinders reeds meerderjarig is en jy voel dat hulle nie met geld kan werk nie, kan jy jou bates laat vererf in trust aan jou kinders tot enige ouderdom wat jy bepaal wanneer hulle kan erf.  Veronderstel jy se in jou testament dat jou  kinders erf al jou bates maar hulle bates gaan in trust totdat hul elkeen die ouderdom van  25 jaar bereik, sal die trust tot ‘n einde kom wanneer die laaste kind 25 jaar oud word. 

Jy kan ook ‘n trust registreer gedurende jou leeftyd. 

KONSULTEER ‘N PROFESSIONELE PERSOON

Die skrywe van hierdie artikel is ‘n praktiserende prokureur en aktebesorger en het ook ‘n nagraadse diploma in Finansiele Beplanning.  Kontak haar dadelik om jou te help om ‘n geldige testament op te stel.