Find the right local SA attorney now!

BESLOTE KORPORASIES: PERSOONLIK VERANTWOORDELIK

In ons eerste artikel oor die Beslotte Korporasie bespreek ons dat die lede van ‘n Beslote Korporasie nie verantwoordelik is vir die skulde van die Beslote Korporasie nie, tensy hul borg daarvoor geteken het.

U kan ook lees ons ander artikels oor insolvensie

Daar is egter wel tye waar die lede persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir die skulde van die Beslote Korporasie waar hulle nie borg geteken het vir die Beslote Korporasie nie.  Hierdie tye word bepaal deur die Beslote Korporasie Wet 69 van 1984 en word in hierdie artikel bespreek.  Soos uiteengesit in hierdie Wet, is die omstandighede soos hieronder bespreek gevalle waar die feit dat ‘n Beslote Korporasie geregistreer is, geignoreer kan word en kan die lede persoonlik aanspreeklik gehou word asof die Beslote Korporasie nie bestaan nie.  Dit word na verwys om “die sluier te lig” van die Beslote Korporasie en lede wat agter hierdie sluier skuil, sal uit hul skuilplek (die Beslote Korporasie) gehaal word en persoonlik aanspreeklik gehou word vir die skulde en verpligtinge van die Beslote Korporasie.

Die omstandighede waaronder lede verantwoordelik gehou kan word in hul persoonlike hoedanigheid selfs al het hulle nie borg geteken nie, word uiteengesit ooreenkomstig die volgende artikels van die Beslote Korporasie Wet (hierna genoem “die Wet”):

ARTIKELS 22 EN 23:  BESLOTE KORPORASIE SE NAAM NIE KORREK VERTOON NIE

In terme van Artikel 22 van die Wet, moet die letters “BK” – in hoofletters – na die naam van die Beslote Korporasie in enige teken op enige van die persele van die Beslote Korporasie verskyn.  Dit moet ook duidelik sigbaar wees in enige dokumentasie wat die Beslote Korporasie gebruik of onderteken.

In terme van Artikel 23 van die Wet, moet die volle naam en registrasienommer van die Beslote Korporasie duidelik sigbaar wees by die Beslote Korporasie se plek van besigheid, asook op enige dokumentasie wat die Beslote Korporasie gebruik of onderteken. Die naam en registrasienommer moet ook duidelik sigbaar wees in ten minste een ander amptelike taal.

As die Beslote Korporasie nie sy naam soos voorgaande uitstal of sigbaar maak nie, sal die Beslote Korporasie, en enige lid wat dokumentasie onderteken sonder dat die informasie van die Beslote Korporasie soos hierbo uiteengesit gemeld word, sal ‘n oortreding begaan.  ‘n Lid wat enige dokumentasie gebruik of onderteken waar die Beslote Korporasie se besonderhede nie so uiteengesit word nie, sal aanspreeklik wees vir enige skuld van die Beslote Korporasie in sy persoonlike hoedanigheid.

ARTIKEL 24(4)

Elke lid moet ‘n bydrae maak tot die Beslote Korporasie met registrasie.  Hierdie bydrae, wat geld of goed of eiendom kan wees, moet binne 90 dae na datum van registrasie van die Beslote Korporasie oorgedra word na die Beslote Korporasie.  Indien ‘n lid versuim om so te doen, sal daardie lid aanspreeklik wees vir al die skuld van die Beslote Korporasie vanaf datum van registrasie van die Beslote Korporasie tot en met datum van die oordrag van die betaling, oordrag of aflewering van die geld, goed of eiendom wat die lid moet bydrae.

ARTIKEL 26(5)

As die lede ‘n Beslote Korporasie deregistreer terwyl daar nog skulde uitstaande is van die Beslote Korporasie, kan hulle persoonlike aanspreeklik gehou word vir die skulde van die Beslote Korporasie wat nog uitstaande is by deregistrasie.

ARTIKEL 42(3):

As ‘n lid ‘n voordeel aan homself toe-eien wat eintlik aan die Beslote Korporasie moes toekom, dan kan die lid verplig word om  hierdie voordeel aan die Beslote Korporasie terug te betaal.  Al die lede van die Beslote Korporasie het ‘n fidusiere plig teenoor die Beslote Korporasie, wat beteken dat elke lid in die finansiele belang van die Beslote Korporasie moet handel en nie vir sy/haar eie gewin of winste te neem wat aan die Beslote Korporasie moes toekom nie. 

ARTIKEL 43

As ‘n lid nalatiglik optree en skade aan die Beslote Korporasie veroorsaak, kan die lid aanspreeklik gehou word deur die Beslote Korporasie vir enige skade wat die Beslote Korporasie mag ly as gevolg van die lid se nalatigheid.  ‘n Lid sal geag wees nalatig op te getree het waar hy/sy nie optree met die nodige vaardigheid wat redelik verwag kan word van ‘n persoon met sy/haar vaardigheid nie.

ARTIKEL 63

Daar is ander omstandighede waaronder lede persoonlik aanspreeklik gehou kan word in terme van Artikel 63 wat nie hier bespreek sal word nie weens beperkte spasie.  Wat wel gese kan word, is dat omstandighede waar die “sluier” gelig kan word soos hierbo genoem, kan wees waar ‘n lid nie eerlik is teenoor derde partye dat hy/sy ‘n lid is van ‘n Beslote Korporasie is nie, terwyl hy/sy eintlik besigheid sluit namens die Beslote Korporasie en dan skade veroorsaak aan sulke derde partye.  In sulke gevalle sal die lid persoonlik aanspreeklik gehou word vir die skuld in sy/haar persoonlike hoedanigheid.