Find the right local SA attorney now!

HOE BESIGHEID VENNOOTSKAPPE WERK

Views from our listed attorneys


Dit is goed om die teorie van Vennootskappe te verstaan, soos wat ons uiteengesit het in ons artikel oor Vennootskappe maar hoe werk dit regtig in die praktyk?  Hierdie artikel sal vir u agtergrond gee oor wat dit beteken om in ‘n Vennootskap betrokke te wees en waar die aanspreeklikheid vir elke vennoot le. 

In ons artikel waarna ons hierbo verwys  het u gelees dat ‘n Vennootskap nie ‘n aparte regsentiteit is nie, behalwe vir sekere doeleindes waar dit wel geag word ‘n aparte entiteit te wees.  ‘n Vennootskap kom tot stand deur ‘n ooreenkoms wat deur twee of meer persone aangegaan word, of tussen ‘n individue en ‘n entiteit of tussen twee entiteite vir ‘n spesifieke doel.  Vir sekere areas van die reg word ‘n Vennootskap behandel as ‘n regsentiteit en vir ander nie.   Ons sit meer hieroor hieronder uiteen.

DIE VENOOTSKAPSOOREENKOMS

Aangesien’ n Vennootskap slegs tot stand kan kom as daar ‘n ooreenkoms tussen persone is om as vennote saam te werk, moet daar ‘n Vennootskapsooreenkoms wees voordat daar ‘n Vennootskap kan wees. Hierdie ooreenkoms moet uiteensit presies wat elke vennoot na die tafel moet bring, waarvoor elke vennoot aanspreeklik is en wat elke vennnoot gaan kry en wat elke vennoot moet doen.  Die Vennootskapsooreenkoms is basies die mees belangrike dokument (as dit op skrif is) van die Vennootskap.  As daar nie ‘n geskrewe ooreenkoms is nie, behoort die mondelingse ooreenkoms duidelik uitgestippel te word tussen die vennote sodat daar geen onsekerheid bestaan nie. Waar daar nie ‘n geskrewe ooreenkoms is nie sal die hof kyk na hoe die vennote die Vennootskap bedryf het.  Die hof sal kyk na wat elke vennoot bygedra het, hoe die winsverdeling geskied het en die algemene werkinge van die Vennootskap sal nagegaan word om ‘n patroon te bepaal van hoe die Vennootskap gewerk het.  Dit is uiters belangrik dat die Vennootskapsooreenoms uiteensit presies hoeveel magte elke vennoot het om die Vennootskap te bind in ooreenkomste.  Lees meer hieroor in punt vyf hieronder en waarom dit so belangrik is dat hierdie klousule spesifiek in ‘n Vennootskapsooreenkoms moet wees.

Ons kan u nie genoeg aanbeveel om seker te maak dat die Vennootskapsooreenkoms eerder op skrif is en onderteken is nie.  Dit kan ook nie sommer enige ooreenkoms wees nie :  ‘n Vennootskapsooreenkoms is ‘n baie spesifieke ooreenkoms wat sekere klousules moet bevat, so maak seker dat u die dienste van iemand gebruik wat weet hoe om sulke ooreenkomste op te stel.

Maak ook agterna seker dat elke vennoot ‘n afskrif van die ondertekende ooreenkoms kry en stoor die oorspronklike kontrak liewer weg van die Vennootskap se perseel soos in ‘n kluis soos by die bank of by u prokureur.

WAT KAN VERWAG WORD DEUR ELKE VENNOOT

1)    Elke vennoot besit die bates van die Vennootskap gesamentlik met die ander vennote en almal is mede-eienaars van die bates van die Vennootskap.  Dit volg dat die bates van die Vennootskap nie behoort aan die Vennootskap nie, maar aan die vennote gesamentlik in onverdeelde aandele.  Om bates in overdeelde aandele te besit beteken dat die aandeel nie spesifiek uitgewys kan word nie.  So dit beteken nie dat as daar kantoormeubels en kontant en ‘n gebou in die Vennootskap is dat ‘n vennoot presies die helfte van die kantoormeubels, die helfte van die kontant en die helfte van die gebou en kontant besit nie.  Die bates behoort nie aan die Vennootskap nie, maar aan die onderskeie vennote self sonder dat mens kan se vennoot A besit die heflte van die tafel kom ons sny dit in die helfte by ontbinding van die Vennootskap.  Nee, al die vennote besit die tafel gesamentlik.

2)    Die vennote is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir die skulde en verpligtinge van die Vennootskap.  Gesamentlik en afsonderlik beteken dat al die vennote moet gesamentlik die skuld betaal en, waar die ander vennote nie kan betaal nie, kan ‘n krediteur teen net een vennoot optree.  Trouens, ‘n krediteur is nie verplig om teen ander vennote op te tree nie, hy kan teen net een vennoot optree sonder om teen die ander op te tree.

3)    ‘n Vennoot se persoonlike bates kan ook op beslag gele word deur ‘n skuldeiser vir skuld van die Vennootskap.  As daar byvoorbeeld ‘n Lasbrief vir Eksekusie uitgereik word om beslag te le op die bates van die Vennootskap en daar is nie bates nie of daar is nie voldoende bates om die skuld te dek nie, kan ‘n skuldeiser ook op die persoonlike bates van ‘n venoot of van al die vennote beslag le en die bates verkoop totdat die eis van die krediteur ten volle vereffen is.

4)    Wanneer ‘n Vennootskap se laste sy bates oorskry, dan is die Vennootskap insolvent vir die doeleindes van die Insolvensiewet.  In hierdie geval word ‘n Vennootskap dan behandel as ‘n regsentiteit en kan die Vennootskap gesekwestreer word. Nie net die Vennootskap word gesekwestreer nie, maar ook die persoonlike boedel van elke vennoot word gesekwestreer.  Al die aansoeke om sekwestrasie word gelyktydig geloods, alhoewel elkeen ‘n aparte aansoek is.  Byvoorbeeld as daar drie vennote was sal daar vier aparte aansoeke gelyktydig voor die Hof dien – synde die van die Vennootskap en een van elke vennoot.

5)    Enige van die vennote kan kontrakte aangaan namens die Vennootskap.  Dit beteken dat ‘n vennoot kan ‘n ooreenkoms aangaan met ‘n derde sonder die kennis van die ander vennote en skuld aangaan namens die Vennootskap of verpligtinge aangaan namens die Vennootskap (dat die Vennootskap iets moet doen) sonder dat die ander Vennote daarvan weet.  As die Vennootskapsooreenkoms nie vennote se handelinge beperk nie, sal daar niks wees wat die ander vennote kan doen indien ‘n vennoot sulke kontrakte aangegaan het namens die Vennootskap nie en die vennootskap sal gebind wees daardeur.

6)    Die Vennootskap kan nie apart sonder die vennote bestaan nie, want die Vennootskap word nie geag as ‘n regspersoon nie (met uitsonderings).  Dit beteken dat, alhoewel die Vennootskap wel bestaan, is die Vennootskap en elke vennoot afsonderlik en gesamentlik ook persoonlik aanspreeklik vir die skulde van die Vennootskap.  Dit is egter moontlik om eiendom in die naam van die Vennootskap aan te gaan en die Vennootskap kan in sy eie naam regsaksie instel teen derde partye.

7)    Maar net soos wat die vennote aanspreeklik is vir die skuld van die Vennootskap, net so is die vennote geregtig op die wins van die Vennootskap.  Elke vennoot moet sy aandeel in die winste en voordele van die Vennootskap kry.  Hoeveel elke vennoot moet kry sal afhang van hoe die winsdeling in die Vennootskapsooreenkoms uiteengesit word.  As daar nie ‘n geskrewe ooreenkoms is nie en die vennote verskil van die inhoud van die verbale ooreenkoms, dan sal die winsdeling geskied ooreenkomstig elke vennoot se bydrae tot die Vennootskap. Dieselfde geld wanneer die Vennootskap ontbind.

HOE ONTBIND ‘N VENNOOTSKAP

‘n Vennootskap ontbind outomaties wanneer een van die lede sterf, of indien enige van die lede uittree uit die Vennootskap.  Weereens sal die Vennootskapsooreenkoms bepaal watter prosedure gevolg moet word deur vennote wat die Vennootskap wil verlaat – soos byvoorbeeld dat hy/sy ‘n bedankingsbrief skryf.  Die verdeling van bates sal uiteengesit word in die  Vennootskapsooreenkoms, maar soos hierbo gemeld, as daar nie ‘n geskrewe ooreenkoms is nie of daar kan nie bepaal word wat die verbale ooreenkoms is nie, sal elke vennoot by ontbinding in die bates en winste deel van die Vennootskap in die mate wat hy/sy bygedra het tot die Vennootskap.  Indien die vennote ‘n nuwe vennoot tot die Vennootskap wil toelaat, moet die Vennootskap eers ontbind en ‘n nuwe Vennootskap gevorm word.  Die Vennootskap se boeke moet afgesluit word en die bates oorgedra word na die vennote asook die laaste skulde van die Vennootskap betaal word, dan is die Vennootskap ontbind. 

Lees ons ander artikel oor  hoe die Ontvanger van Inkomste Vennootskappe behandel.