Find the right local SA attorney now!

REHABILITASIE EN KREDIETBURO’S

Artikel deur ProkureurNanika Prinsloo

Ons het heelwat navrae gehad van persone wat gerehabiliteerd is, net om uit te vind dat die banke nie vir hul krediet wil toestaan nie.  

SKOONMAAK VAN KREDIETBURO REKORD

Wanneer u instruksie gee aan ‘n prokureur vir ‘n rehabilitasie aansoek, moet u ook seker maak of die dienste die skoonmaak van u kredietburo rekord insluit al dan nie.  As dit sodanige dienste insluit, behoort u ook navraag te doen oor wat presies die skoonmaak van u rekords behels.  (Ons brei meer daaroor hieronder uit).  U sal gewoonlik vind dat hoe goedkoper u vir die rehabilitasie aansoek betaal, hoe minder dienste gaan u kry en gewoonlik sal ‘n rehabilitasie wat onder die voorgeskrewe fooi gevra word (waar prokureurs disrespekvolle “undercutting” van fooie doen), dat sulke fooie nie insluit om u kredietburo rekord skoon te maak of om dit behoorlik skoon te maak nie.

KREDIETBURO SKOONMAAK VS KREDIETBURO SKOONMAAK

U sal vind dat sommige maatskappye se dat hulle u kredietburo rekord skoonmaak, slegs vir u om te vind dat die bank nie vir u krediet na rehabilitasie wil gee nie omdat daar nog steeds fout is met u kredietrekord.  Sommige kredietburo’s, en spesifiek Experian, sal soms vereis dat ‘n vonnis wat teen u gegee is eers tersyde gestel moet word voordat hulle dit sal verwyder.  Soms word die rehabilitasiebevel heeltemal verkeerd gelys or glad nie gelys nie.  Dus, indien u nie kan krediet kry nie, vind uit waarom nie en maak seker dat u krediet rekord inderdaad behoorlik skoongemaak is en korrek gelys word.  Om ‘n rehabilitasiebevel te bekom beteken nie outomaties dat u kredietrekord skoongemaak word nie.

VONNIS VOOR EN VONNIS NA ‘N SEKWESTRASIE BEVEL

Enige Verstek- of Summiere Vonnis teen u toegestaan voor datum van sekwestrasie moet van u naam verwyder word wanneer ‘n rehabilitasiebevel toegestaan is.  Enige Verstek- of Summiere Vonnis wat toegestaan is na datum van sekwestrasie sal eers verwyder kan word nadat so ‘n Vonnis tersyde gestel is deur ‘n hof.  Daar sal dus ‘n formele aansoek om tersydestelling gebring moet word voordat die kredietburo so ‘n vonnis van u rekord sal verwyder.  Maar onthou dat op vonnisse toegestaan voor datum van sekwestrasie moet die vonnis verwyder word deur die kredietburo.  Soms weier Experian om dit te doen, maar hulle het geen regsgrond om op te staan om te weier nie en gewoonlik met ‘n bietjie van ‘n geveg gee hulle gewoonlik toe.

Maak dus seker dat u kredietrekord, nadat die rehabilitasiebevel toegestaan is, geen vonnisse wys nie.  As dit wys “Vonnis” en daarna “0”, sal u moet uitvind waarvoor so ‘n vonnis staan.

INTER-BANK SISTEEM

Bo en behalwe die kredietburo’s, is daar ook ‘n inter-bank sisteem waar punte aan u kredietrekord toegestaan word.  Soms sal u kredietrekord wys dat dit skoon is, maar agter op u inter bank sisteem wys ‘n vonnis.  Vra dus vir die bank die rede waarom u krediet geweier word en as u kredietrekord skoon is, moet u uitvind wat is die rede waarom die bank u dan andersinds krediet weier.

NASIONALE KREDIETWET

Na rehabilitasie moet u nog steeds kwalifiseer vir “bekostigbaarheid” in terme van die Nasionale Kredietwet.  Dit beteken dat u ‘n voldoende inkomste moet verdien om, nadat u u uitgawes betaal het, om ook nog die skuld wat u wil aangaan te kan betaal.  Indien u nie hiervoor kwalifiseer nie, dan sal die bank nie aan u krediet toestaan nie al is u kredietrekord skoon. 

ANDER PROBLEME

Ander redes waarom die bank miskien nie krediet aan u sal wil toestaan nie kan ook wees dat u geen kredietrekord na rehabilitasie het nie.  U het sekerlik kontant geleef sonder enige skuld vir die periode wat u onder sekwestrasie was en u sal ironies genoeg dan geen kredietrekord he ne.  Indien u kan, open klein rekenings by klerewinkels voordat u aansoek doen om krediet by ‘n bank in so ‘n geval, sodat u net weer ‘n kredietrekord kan opbou.  Ongelukkig in ons wereld word u nie beloon omdat u skuldvry leef nie!

Op die end van die dag is die situasie dat indien ‘n instansie vir u krediet weier na rehabilitasie, vind uit wat die rede is waarom hulle weier.  Indien dit ‘n kredietburo probleem is gaan terug na die kredietburo of die instansie wat u gehelp het om u kredietburo rekord skoon temaak en as dit ‘n ander rede is, sal u met die bank moet onderhandel daaromtrent.

Meer Regsadvies

Hierdie artikel is geskryf deur Nanika Prinsloo of Prinsloo & Genote Prokureurs.

www.empowerlaw.co.za