Find the right local SA attorney now!

AFHANDELING VAN ‘N OORLEDENE SE BOEDEL

Views from our listed attorneys


Afhandeling van ‘n oorledene se boedel  val die eksekuteur wat aangestel word ten taak.  Die afhandeling van ‘n oorledene se boedel behels dat daar sekere goed gedoen moet word deur ‘n eksekuteur  en dat daar met respek en inagneming van die testateur se wense gehandel moet word (as daar ‘n testament is). As daar nie ‘n testament is nie moet daar gehandel word in terme van die Intestate Erfreg.

Die reg affekteer alles in ons lewens… en ook so in die dood. Wanneer ‘n persoon sterf, moet iets met sy/haar bates gebeur (huis, meubels, geld, beleggings, skuld). Om te verseker dat die bates van ‘n oorlede persoon beskerm word, is die Meester van die Hoe Hof (hierna verwys as “die Meester”) die oorsiener van alle oorlede persone se boedels. Gevolglik is daar sekere stappe wat gevolg moet word na iemand se dood en dit moet in alle boedels gebeur: maak nie saak hoe ryk of hoe arm die persoon was nie.

Die heel eerste ding wat gedoen moet word, is dat daar ‘n inventaris opgeneem moet word van die oorledene se bates. Daarna moet die boedel aangemeld word by die Meester.

WAT GEBEUR MET DIE OORLEDENE SE BATES?

‘n Testament sal bepaal watter stappe gevolg word in die afhandeling van ‘n oorledene se boedel. Die enigste manier om seker te maak dat daar met jou bates gehandel word soos wat jy dit wil he, is om ‘n testament te maak wat voldoen aan die nodige vereistes.  Lees my artikel oor die vereistes vir ‘n geldige testament

As daar ‘n testament is en dit is ‘n geldige testament, sal die bates vererf in terme van die testament. As jy nie ‘n testament nalaat nie , sal jou bates vererf in terme van die intestate erfreg. Lees my artikel oor hoe die intestate erfreg werk

In jou testament sal jy ‘n Eksekuteur aanwys.  Die Eksekuteur is die persoon wat al die administratiewe werk sal doen om jou boedel af te handel. As daar nie ‘n geldige testament nagelaat word nie of indien jou testament om die een of ander rede nie ‘n eksekuteur aanwys nie, sal die Meester ‘n eksekuteur aanstel.

Ek beveel nie aan dat jy ‘n familielid wat nie ‘n prokureur  of iemand wat kennis het van bestorwe boedels aanstel as eksekuteur nie. So ‘n persoon gaan nie weet wat om te doen nie en moet dan in elk geval iemand aanstel.

Die Eksekuteur moet die boedel binne 14 dae na datum van dood by die Meester aanmeld. Sodra dit aangemeld is, sal die Meester ‘n Eksekuteursbrief uitreik indien die Eksekuteur as ‘n geskikte persoon gevind word.

WAT GEBEUR MET OORLEDENE BANKREKENING TYDENS AFHANDELING VAN ‘N OORLEDENE SE BOEDEL?

Maak liewer voorsiening vir jou geliefdes om toegang tot kontant te he, want indien jy sterf word jou bankrekenings gevries en dit kan ‘n kontantvloeiprobleem veroorsaak. Die bankrekenings word nie oornag gevries wanneer jy sterf nie, want die bank sal nie weet dat iemand oorlede is indien iemand nie die bank in kennis stel nie. Gewoonlik is dit maar die eksekuteur wat die bank in kennis stel. Feit bly staan sodra die bank uitvind van die dood, sal die rekening gevries word en dit kan kontantvloeiprobleme veroorsaak.

Neem dan liewer ‘n polis uit wat direk aan jou eggenoot uitbetaal (waar die persoon ‘n begunstigde is) en dan kan dit die probleem oplos.

Sodra die Eksekuteur die aanstellingsbrief van die Meester af ontvang, moet hy/sy die bankrekenings van die oorledene sluit en alle beleggings oproep. Daar moet ‘n boedelbankrekening oopgemaak word en alle gelde van die oorledene moet daarin betaal word. Die geld sal in die rekening bly (tensy daar uitgawes is wat betaal moet word) totdat die Meester die laaste Likwidasie – en Distribusierekening goedgekeur het.

ONDERHOUD AAN GELIEFDES TYDENS DIE AFHANDELING VAN ‘N OORLEDENE SE BOEDEL

Vir die onmiddellike en totdat die Eksekuteur aangestel is en hy/sy ‘n nuwe bankrekening vir die boedel oopgemaak het, kan daar kontantvloeiprobleme wees as jy nie ander voorsiening gemaak het nie.  (Die “ander voorsiening” waarna ek verwys bedoel ek met registreer ‘n trust en plaas geld daarin en maak jou familie die begunstigdes,; of neem ‘n polis uit wat direk uitbetaal aan jou begunstigdes soos hierbo genoem.).  Maar daar kan onderhoud betaal word aan die erfgename indien dit nodig is.

WAT IS DIE LIKWIDASIE- EN DISTRIBUSIEREKENING (L&D  rekening)?

Hierdie rekening is ‘n rekening wat opgestel word deur die Eksekuteur.  Hierdie rekening wys presies wat die Eksekuteur gedoen het met die bates van die oorlede persoon. Daar is meer as een L&D Rekening.   Hierdie rekeninge moet goedgekeur word deur die Meester voordat die Eksekuteur enige gelde kan uitbetaal (behalwe onderhoud soos hierbo bespreek en natuurlik uitgawes wat deur die boedel betaal moet word). 

Die doel van hierdie L&D rekening is om seker te maak dat daar behoorlik gehandel word met die bates van die oorledene of in terme van die testament of in terme van die intestate erfreg..

Die eerste L&D rekening moet gelewer word deur die Ekseuteur binne ses maande nadat die Eksekuteursbrief deur die Meester uitgereik is. Indien die Meester die rekening goedkeur, sal hy die Eksekuteur toestemming gee om ‘n kennisgewing in die Staatskoerant te en in een of meer plaaslike koerante wat sirkuleer in die area waar die oorledene normaalweg gewoon het. Hierdie kennisgewing wat geplaas word, moet kennis gee dat die L&D rekening beskikbaar sal wees vir insae in die Meester se kantoor vir nie minder nie as 21 dae. Enige persoon kan dan na die Meester se kantoor gaan en gaan kyk na die L&D rekening.  ‘n Voorbeeld hier sal wees dat jy ‘n kind is van die oorlede en jy weet nie hoeveel jy gaan erf nie, of jy is nie seker of die Eksekuteur reg gehandel het nie. Jy kan dan gaan kyk na die L&D rekening en indien jy nie tevrede is nie, kan jy aandui dat jy ontevrede is met die rekening. Die Meester sal dan die saak ondersoek.

Dit is om seker te maak dat die Eksekuteur handel met die bates van die oorledene op die regte manier.

WAT WORD VAN KREDITEURE TYDENS DIE AFHANDELING VAN ‘N OORLEDENE SE BOEDEL?

Sodra die Eksekuteur aangestel is deur die Meester, moet die Eksekuteur ‘n kennisgewing in die Staatskoerant en in een of twee plaaslike koerante wat sirkuleer in die distrik waar die oorledene gewoonlik gewoon het. In hierdie kennisgewing word alle persone aan wie die oorledene miskien geld skuld opgeroep om ‘n eis teen die boedel in te stel binne 30 dae. Hierdie kennisgewings word geplaas net om seker te maak dat enige persoon wat ‘n belang in die oorledene se boedel het kennis neem dat die oorledene gesterf het en dat hulle die nodige aksie moet neem.

BOEDELBELASTING

Alle oorlede persone moet boedelbelasting betaal as die waarde van so ‘n persoon se boedel bo R3.5miljoen is. Boedelbelasting word betaal teen ‘n koers van, op die oomblik (2015) 33.3% (trusts betaal 66.6%). 

Hier is ‘n voorbeeld van hoe dit bereken word of jy boedelbelasting betaal of nie:

Jou boedel is R2miljoen werd.

Dit is minder as R3.5miljoen, so jy gaan nie boedelbelasting betaal nie.

Nog ‘n voorbeeld:

Jou boedel is R5miljoen werd.

Trek R3.5miljoen af.

Jy gaan boedelbelasting betaal op R1.5miljoen. .

Daar is maniere om die impak van boedelbelasting te vermy.  Kontak die skrywer gerus en bespreek dit met my. Dit vat versigtige boedelbeplanning om jou testament so op te stel dat dit tot jou en jou erfgename se voordeel is.

KAPITAALWINSBELASTING

Daar is sekere omstandighede wanneer ‘n oorledene se boedel aanspreeklik is vir kapitaalwinsbelasting.  Kontak my dat ek dit met jou bespreek.

WAT GEBEUR MET DIE HUIS TYDENS DIE AFHANDELING VAN ‘N OORLEDENE SE BOEDEL?

Indien daar ‘n testament is, sal die testament bepaal wat met die huis moet gebeur. As daar nie ‘n testament is nie, sal die Wet op Intestate Vererwing bepaal wat gebeur met die huis. In jou testament kan jy die huis aan iemand laat of jy kan bepaal dat dit verkoop moet word en die opbrengs verdeel word onder jou erfgename. Indien daar ‘n verband op die eiendom is, behoort jy ‘n polis in plek te he wat die verband sal aflos by jou dood, anders gaan jou erfgename die verband moet betaal of die eiendom gaan verkoop moet word om die verband af te los. 

WAT IS DIE PROSEDURES WAT GEVOLG MOET WORD MET DIE AFHANDELING VAN ‘N OORLEDENE SE BOEDEL?

Indien die Eksekuteur wat jy aanwys ‘n leek is, is die kanse goed dat so ‘n persoon nie sal weet wat om te doen wanneer hy/sy aangestel word nie.