Find the right local SA attorney now!

INSOLVENSIE - WAT GEBEUR MET BATES

Article by listed AttorneyNanika Prinsloo

Nie alle bates wat ‘n persoon besit vorm noodwendig deel van ‘n sekwestrasie nie.  Dit is moontlik om te sekwestreer sonder om bates te besit.

U kan meer oor insolvensie lees hier  

Vir die doeleindes van sekwestrasie moet AL die bates van ‘n insolvente persoon (dit is die persoon wat gesekwestreer word) ingesluit word in die sekwetrasie, maar daar is wel bates wat uitgesluit kan word.

Besighede likwideer (as dit nie ‘n eenmansaak is nie) en hoef nie bates te besit nie.

BESIGHEDE LIKWIDEER EN HET NIE BATES NODIG NIE

As a besigheid ‘n Beslote Korporasie is, of ‘n Maatskappy of ‘n Trust (hierin later na verwys as “die besigheid”) en dit word insolvent, sal dit aansoek doen om likwidasie.  (Individue sekwestreer en besighede likwideer).

Wanneer ‘n besigheid likwideer, maak dit nie saak of dit bates besit al dan nie, want in terme van die Beslote Korporasie Wet, die Maatskappyewet en die Wet op die Beheer van Trustgoed, moet die entiteit likwideer as die laste die bates oorskry en mag nie langer besigheid doen nie.

Indien die entiteit oor bates beskik, sal al die bates van die Maatskappy ingesluit word in die likiwdasie en verkoop word om skuldeisers te betaal.  Bates wat nog onder huurkoop of ander finansiering is, sal nie deel vorm van die likwidasie nie maar sal teruggeneem word deur die instansie wat dit gefinansier het.

Die bates wat aan die entiteit behoort, sal na likwidasie verkoop word deur die likwidateur op ‘n insolvensieveiling en die skuldeisers van die entiteit sal met die opbrengs betaal word.  Enige skulde wat nie betaal kan word uit die opbrengs van die verkoop van die bates van die entiteit nie, moet afgeskryf word deur so ‘n skuldeiser. (Gewoonlik sal die lid van ‘n Beslote Korporasie, of die direkteur(e) van ‘n Maatskappy of Trustees van ‘n Trust borg teken namens die entiteit. Wanneer die entiteit likwideer, sal die borgskap opgeroep word.  Daarom behoort die persoon wat borg geteken het vir die entiteit dit baie sterk te oorweeg om te sekwestreer).

As daar nie bates is nie, sal skuldeisers net nie betaal kan word na die likwidasie nie en sal hulle alle uitstaande skuld doodeenvoudig moet afskryf.

INDIVIDUE SEKWESTREER EN MOET VERKIESLIK BATES HE

‘n Individu of ‘n persoon wat besigheid doen as ‘n eenmansaak sal, indien sy/haar laste sy/haar bates oorskry, kan aansoek doen om sekwestrasie.  Wanneer ‘n individu aansoek doen om sekwestrasie, is dit verkieslik dat hy/sy ‘n huis besit.

Indien die persoon ‘n huis besit, dan sal die persoon slegs die koste van die sekwestrasie betaal, aangesien die huis verkoop sal word op ‘n insolvensieveiling.  Die opbrengs van die huis sal dan gebruik word om skuldeisers mee te betaal.

Indien die persoon nie bates het nie, dan sal hy/sy ‘n minimum van 20c in die Rand (20%) van die totaal van sy/haar uitstaande skuld in kontant moet inbetaal sodat dit onder die skuldeisers verdeel word.   Indien hierdie kontantbydrae nie betaal kan word nie (dit is net nodig as die persoon nie bates het nie) kan die persoon nie sekwestreer nie. 

ONROERENDE EIENDOM (HUIS/ERF/WOONSTEL/PLAAS)

In terme van die Insolvensiewet is eiendom roerende of onroerende bates.  Al is ‘n onroerende bate onderhewig aan ‘n verband, word dit nog steeds geag as ‘n bate in ‘n persoon se boedel wanneer hy/sy sekwestreer.

The onroerende eiendom sal verkoop word op ‘n insolvensieveiling na sekwestrasie en die opbrengs word verdeel onder skuldeisers.  Die bank wat die verband hou sal gewoonlik al die geld kry, want deesdae verkoop die  eiendomme nie meer vir genoeg om die bank en ander skuldeisers te betaal nie.  Trouens, die banke kry ook selde die volle bedrag van die uitstaande verband.  Enige bedrae wat nie betaal word uit die opbrengs van die eiendom nie moet afgeskryf word deur ‘n skuldeiser.

ROERENDE EIENDOM

Roerende eiendom is alle bates wat nie ‘n huis/erf/gebou is nie.  Enige roerende bates wat steeds onder ‘n afbetalingsverkoopooreenkoms is sal nie deel vorm van die sekwestrasie nie.  Hierdie tipe bates word teruggeneem deur die bank. 

Die tipe roerende eiendom en die in- of uitsluiting daarvan word hieronder bespreek.

MEUBELS

Alhoewel huishoudelike items geag word as ‘n bate in ‘n boedel, word die gemiddelde huishoudelike items (meubels) nie verkoop om skuld te betaal na ‘n sekwestrasie nie.  Dit sluit beddegoed en klere in.  Meubels word gewaardeer teen tweedehandse eksekusieveilingspryse, wat baie lag is.  Dit is nie die moeite werd om die meubels op ‘n veiling te verkoop waar daar advertensiekoste sal wees asook afslaerskommissie nie.  Die meubels waarna hier verwys word is gemiddelde meubels in ‘n woonhuis en nie spesiale en rare antieke meubels wat ‘n wins sal behaal nie.

Die meubels verlaat dus nie die besit van die persoon wat gesekwestreer word nie, aangesien niemand belangstel daarin nie.  Die insolvente persoon koop die meubels terug by die kurator vir ‘n bedrag van ongeveer R7500.  Die reelings hiervoor word gemaak met die kurator.

Enige meubels waarvan die insolvente persoon nie die eienaar is nie, vorm nie deel van die insolvente boedel nie en meubels wat nog onder huurkoop is, gaan terug na die instansie wat dit verkoop het (die meubelwinkel).

VOERTUIE

Voertuie wat ten volle vereffen is, en wat die eiendom van die insolvente persoon is, vorm deel van sy/haar boedel en tensy die persoon reel om die voertuig terug te koop van die insolvente boedel, sal die voertuig nadat dit gewaardeer is deur ‘n geswore waardeerder, verkoop word op ‘n veiling. 

Voertuie onderhewig aan ‘n afbetalingsverkoopooreenkoms/huurooreenkoms moet teruggaan na die bank met ‘n sekwestrasie.   U kan nie sekwestreer EN aanhou om die voertuig af te betaal en te gebruik nie, aangesien sekwestrasie die kontrak kanselleer en die bank natuurlik die voertuig terugneem.

SELFOONKONTRAKTE

Selfoonkontrakte moet gekanselleer word.

EIENDOM WAAROP DIE BALJU BESLAG GELE HET AS GEVOLG VAN ‘N REGSAKSIE

As ‘n Lasbrief vir Eksekusie uitgereik was deur ‘n skuldeiser voor sekwestrasie en die Balju reeds beslag gele het op ‘n bate – of ‘n huis of meubels – sal sodanige bates steeds deel vorm van die sekwestrasie.  Die sekwestrasie hef alle regsaksies wat reeds geneem is op, so selfs al is daar reeds ‘n veiling gereel, sal die sekwestrasie die veiling kanselleer.

ERFENIS

Indien die persoon wat gesekwestreer is ‘n erfenis ontvang tydens die periode wat hy/sy gesekwestreer is, sal sodanige erfenis ook deel vorm van die bates van die insolvente boedel.  As die persoon weier om die erfenis te aanvaar, sal dit nie deel vorm van die insolvente boedel nie (maar dan sal die persoon ook niks erf nie).

VERGOEDING VIR WERK GEDOEN (SALARIS EN ANDER INKOMSTE)

Indien die insolvente persoon werk gedoen het en daarvoor betaling ontvang na datum van sekwestrasie, word dit as inkomste geag en bly dit die eiendom van die insolvent en hoef nie in die insolvente boedel inbetaal te word nie.   Met ander woorde, die inkomste van die persoon wat sekwestreer word (salaris of andersinds) bly syne/hare.  (Daar is omstandighede waar inkomste deel kan vorm van ‘n insolvente boedel, maar aangesien hierdie ‘n algemene bespreking is gaan ons nie in detail daarop in nie).

POLISSE

Sekere polisse word uitgesluit uit die insolvente boedel in terme van Artikel 63(1) van die Langtermyn Versekeringswet, Wet 52 van 1988, naamlik:

A polis wat in werking is vir ten minste 3 haar, en wat ‘n bystands-, lewens-, ongeskiktheids- of gesondheidspolis is, en waar die insolvent en sy/haar eggenoot(ote) die versekerde lewe is, is uitgesluit.

Enige bate wat die insolvent bekom het en wat hy/sy uitsluitlik gekoop het met die opbrengs van so ‘n polis binne ‘n periode van 5 jaar, word ook uitgesluit.

VERGOEDING VIR LASTER OF PERSOONLIKE SKADE

Enige vergoeding wat die insolvente persoon ontvang na datum van sekwestrasie vir laster of persoonlike skade, is uitgesluit van die insolvensie.  As die insolvente persoon byvoorbeeld in ‘n motorongeluk was en het ‘n uitbetaling ontvang vir pyn en lyding, sal sodanige uitbetaling nie deel vorm van die sekwestrasie nie.  Dit is ook van toepassing waar ‘n lastereis ingestel was en uitbetaling geskied het. 

Dit is van toepassing of die uitbetaling geskied het voor of na sekwestrasie.

VERGOEDING VIR WERKSBESERING OF –SIEKTE

Enige gelde wat ‘n werknemer ontvang as gevolg van ‘n besering wat hy/sy aan diens opgedoen het, is ook uitgesluit van ‘n sekwestrasie.

WERKLOOSHEIDSVERSEKERINGSVOORDELE

Hierdie voordele is ook uitgesluit van sekwestrasie.

Hierdie artikel is ‘n algemene bespreking van bates wat in- of uitgesluit word in ‘n sekwestrasie en is nie ‘n volledige lys nie.  ‘n Konsultasie sal bepaal watter bates sal in- of uitgesluit word in u sekwestrasie.

 

Hierdie artikel is geskryf deur Nanika Prinsloo van Prinsloo en Genote Prokureurs en Aktebesorgers.

Email: nanika@vodamail.co.za

 

www.empowerlaw.co.za